Nuuskommentaar: 9 Februarie 2022
Deur: Johnell van Volenhoven
Gedurende die afgelope byna twee jaar het toelae in Suid-Afrika letterlik oornag vermeerder. Die koms van die Covid-19-pandemie het Suid-Afrika nie net in ’n ramptoestand laat beland waar alle beheer aan ’n bevelsraad oorgelaat is nie, maar dit het ook die ekonomiese ramp waarop Suid-Afrika afstuur versnel. Die werkloosheidsyfer het skerp gestyg en daarmee saam is meer staatstoelae op die skouers van die belastingbetaler geplaas.
Dat die staat vir die burgers van sy land verantwoordelik is, is sekerlik so, maar daardie verantwoordbaarheid moet nie met drakoniese maatreëls en regulasies toegepas word waar burgers nie net tydens die pandemie nie, maar ook binne ’n ekonomie beheer word nie. Die staat se verantwoordelikheid is eerder om die nodige infrastruktuur daar te stel en in stand te hou sodat dit mense, wat veronderstel is om vry te wees, in staat kan stel om vir hulleself en vir ander werk te kan skep.
Die regulering van aanstellings deur die daarstelling van SEB-teikens en ’n minimumloon is juis van dié dinge wat die ekonomie verder laat aftuimel eerder as wat dit groei stimuleer. En dan sit die belastingbetaler, wat reeds in die minderheid is, met die verantwoordelikheid om die regering se gee-hand te versterk met sy inkomste, in plaas daarvan dat hierdie geld eerder in die groei en uitbou van die land en sy ekonomie belê word.
Toelae is nie ’n belegging nie. Dit is die verlamming van die werksmag. Dit maak en hou dit afhanklik. ’n Belegging sou wees om hierdie kosbare inkomste vir die bou en instandhouding van skole en toegewyde onderwysers aan te wend; om sentrums vir vroeë ontwikkeling op te rig en vaardige personeel aan te stel om kinders vir ’n suksesvolle skoolloopbaan voor te berei. ’n Belegging sou wees die bou van paaie, die aanlê van krag en effektiewe polisiëring met ’n regbank wat die afbrekers dienooreenkomstig straf vir die skade wat hulle aan hierdie land en sy mense doen.
Maatskappye moet nie tot hierdie mate beheer en gereguleer word nie. Hulle moet eerder in staat gestel word om die werkloosheidkrisis vanuit die privaat sektor te kan oplos. Met ’n onderhandelbare minimumloon word ’n persoon van werkende ouderdom bemagtig. Hy staan nie net die kans om meer as R350 per maand te verdien nie, maar kan ook broodnodige ondervinding, vaardighede en kennis opdoen waarmee hy vir ander betrekkinge kan aansoek doen en sodoende stelselmatig sy inkomste kan verhoog.
Natuurlik is dit dan ook nie net die maatskappy en die werknemer wat hieruit bevoordeel word nie, maar selfs die regering. Dalk moet iemand dit vir die regering uitspel: hoe meer mense werk, hoe meer belasting kan ingevorder word en hoe voller kan die staatskas raak. Dit voel soos ’n graad 8 les in ekonomie wat steeds nie vir die vergrypers en aanwenders met die hoogste range sin maak nie. Dít skep welvaart vir almal.
Dít is ook waarom daar verset teen die staat is. Dít is waarom mikro-ekonomieë in klein dorpies ontstaan en waarom inwoners hulle eie oplossings vind en vooruitgang self bewerkstellig. Dít is waarom privaat skole oopmaak en privaat tersiêre instansies gebou word. En dít is ook die rede waarom sekere gemeenskappe floreer.
Om vry, veilig en voorspoedig in ’n land te kan wees waar jy onderdruk word is nie vanselfsprekend nie. Dit is die reg wat jy geniet omdat jy die voorreg het om voorouers te hê wat glo in harde werk en vooruitgang. En jy, omdat jy daarin geskool is, glo ook daaraan en bou daarom jou eie toekoms en dié van jou kinders op daardie waardes voort. En so, ten spyte van regulasies en beperkings, vind jy en jou gemeenskap ’n manier om ’n opvoeding daar te stel, hulpmiddele beskikbaar te hê en in dit wat volhoubaar is, te belê.