1 Julie 2022
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens sê hy het ‘n paar veranderinge aangebring waarop belastingpligtiges moet let voordat hulle vanjaar hulle belastingopgawes indien.
Volgens die belastinggaarder is die grootste verandering aan sy outomatiese-aanslag-program aangebring.
Die outomatiese-aanslag word gegenereer deur inligting wat van banke, mediese fondse, werkgewers, uittree-anuiteite en ander derde partye op die belastingpligtige se aanlyn-profiel ingetrek word.
Sodra die SAID die outomatiese-aanslag voltooi het, sal dit die belastingbetaler per SMS of e-pos in kennis stel, en die belastingbetaler sal dit op die eFiling-webwerf of die slimfoontoepassing kan besigtig.
Belastingbetalers kan die derdeparty-inligting nagaan om te sien of die inligting korrek is voordat die opgawe ingedien word.
Die belastingseisoen vir diegene wat moet opgawes indien, begin vandag.