15 Maart 2024
“Nóg erger verwaarlosing van polisie-infrastuktuur as wat onlangs by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se hoofkantoor in Pretoria aan die dag gekom het, is onder Solidariteit se aandag gebring.”

Dit volgens die netwerkkoördineerder van die openbare bedryf by Solidariteit, Renate Pieterse.
Sy sê dit is veral die kantore van die Nasionale Intervensie-eenheid (NIU) in Bon Accord in Pretoria waaroor die vakbond talle klagtes ontvang het.
Volgens haar het die polisie reeds in 2021 dié verval by die SAPD aangemeld.

“Die stukkende grensdraad en -muur omhein onvoltooide, geplunderde en verwaarloosde geboue waarin vuurwapens, waaronder hoë kaliber- semi-outomatiese vuurwapens, asook ammunisie, koeëlvastebaadjies en voertuie gestoor word.”
Volgens Pieterse kom diefstal algemeen by hierdie kantore voor. Daar is ook geen skoon drinkwater by die perseel nie. Kragkabels word gesteel, ruite is stukkend en deur is afgebreek.
“ʼn Ondersoek na die ernstige veiligheidsrisiko’s en algemene verval by die NIU en optrede deur die SAPD se topbestuur is nou dringend nodig.”

Johan Böning, hoof van Solidariteit se BGV-afdeling, sê die toestand waarin die belangrike NIU-eenheid verkeer, wys dat die SAPD nie in staat is om selfs sy eie persele te beskerm nie.