Nuuskommentaar: 23 Mei 2022
Deur: Solidariteit Skoleondersteuningsentrum
Die derde hersiening van die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys (algemeen bekend as die BELA-wet) het vandeesweek die lig gesien en is oop vir kommentaar tot 15 Junie 2022. Die wetswysiging sloer reeds vanaf 2017 en hou niks goed vir Afrikaanse skole in nie. Ingevolge dié wysigings sal die staat finale sê hê en word skoolbeheerliggame die reg ontneem om ʼn skool se taal- en toegangsbeleid te bepaal en toe te pas. Die enkele positiewe wysigings in die wet, beteken niks as die probleme nie reggestel word nie.
Die wetsontwerp sal die Suid-Afrikaanse Skolewet van 1996 en die Wet op Indiensneming van Opvoeders van 1998 wysig. Dit poog hoofsaaklik om openbare skole, waar die verantwoordelikheid vir kinders se opvoeding tans steeds hoofsaaklik by gemeenskappe lê, in staatskole te verander. Die SOS en Solidariteit het sy eerste kommentaar teen die beplande wysigings in 2017 reeds by die parlementêre portefeuljekomitee ingedien, met meer as 105 000 besware wat teen die wysigings aangeteken is. Ten spyte van al die kommentaar, is die grootste probleme in BELA steeds daar.
Dit is veral artikels 5 en 6 van die BELA-wetgewing wat inbreuk maak op gemeenskappe se reg op inspraak in hul kinders se opvoeding. Beheerliggame se demokratiese rol en grondwetlike regte, word beduidend ondermyn deur die voorgestelde wysigings. Afrikaanse skole ervaar vir jare reeds toenemende voorskriftelikheid en dwang van staatsmag, ten spyte van al minder en minder staatshulp. Die voorgestelde wet is die kersie op die koek: dit sal die provinsiale hoof van die onderwysdepartement (‘n aangestelde amptenaar) en Lid van die Uitvoerende Komitee vir onderwys (ʼn politieke amptenaar), die finale besluitnemers oor taal en toelatings maak.
Hierdie sentralisering van mag word verskans agter die voorwendsel van goeie bestuur binne skole, maar is in werklikheid die ANC-regering se manier om hul eie sosio-politieke agenda op skole af te druk. Bepalings wat Afrikaanse onderrig inkort en skoolbeheerliggame se reg op die bepaling van hul taal- en toelatingsbeleid en selfstandige besluitneming kortwiek, is ongrondwetlik en moet geskrap word.
Skole en individue word aangemoedig om aan veldtogte teen die BELA-wet deel te neem, maar moet ook individuele kommentaar teen die wysigings indien. Omvattende regsmenings is reeds ingewin, wat duidelik uitwys hoe Afrikaanse onderrig benadeel sal word. Die aantal kommentare wat teen die wysigings ontvang word, is net so belangrik as inhoud van kommentare. Petisies en diepgaande regsmenings wat instellings soos Solidariteit, SOS en Afriforum se kommentaar ondersteun is belangrik, maar moet aangevul word deur afsonderlike besware deur skoolbeheerliggame en individue om die volume van kommentare te vergroot.
Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit sê: “Aan die een kant moet ons kliphard veg om die staat se kaping van skole te keer. Aan die ander kant moet ons kliphard bou aan ʼn wêreldklas, selfstandige skoolstelsel om volhoubare Afrikaanse onderwys te verseker. Daar is wonderlike inisiatiewe in plek, maar ons sal baie groter moet dink.”