Nuuskommentaar: 14 Desember 2022
Deur: Werner Human
Die onlangse parlementêre voorleggings vir kommentaar op die BELA-wetsontwerp het 2022 afgesluit met nog ʼn jaar waarin hierdie wetgewing nie die lig gesien het nie. BELA, oftewel die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette, is reeds in 2017 bekendgestel en poog om ingrypende veranderinge aan die onderwyslandskap aan te bring. BELA stel omvattende wysigings op ʼn verskeidenheid van onderwysgebiede voor, maar dit is veral die bepalings oor die toelating- en taalbeleide van openbare skole, in die besonder Afrikaanse openbare skole, wat van belang is.
Onderwys-organisasies het sedert die aanvang van BELA vyf jaar gelede tereg uitgewys dat die staat vasbeslote is om spesifiek Afrikaanse openbare skole onder die beheer van die staat te plaas. Die volledige gevolge van BELA sal wees dat Afrikaanse openbare onderwys uiteindelik die kenmerke van die staat sal dra, naamlik ʼn Engelse taalbeleid, lae standaarde, swak onderwysers en ʼn kwynende skool-infrastruktuur.
BELA skep derhalwe ʼn bedreiging vir Afrikaanse skole wat kenmerkend hoë standaarde handhaaf met toegewyde en hoogs bekwame onderwysers.
Alhoewel die BELA-wetgewing met groot bravade begin het, kon die teenkanting, danksy onderwys-organisasies, skole en die ouergemeenskap, die blikkie verder in die pad af skop. Daar is weinig vordering gemaak sedert 2018, en die proses het eers vanjaar tot parlementêre voorleggings gevorder.
Dié voorleggings was baie insiggewend en veelseggend. Aan die een kant getuig die voorleggings dat die talle organisasies wat hulle vir gehalte-onderwys in Afrikaans beywer, eensgesind is oor wat die gevolge van BELA sal behels – elkeen wel met ʼn unieke aanslag, maar almal onteenseglik gekant teen die bedreigende bepalings in die wetsontwep.
Waar begrip oor die negatiewe aspekte van BELA deur hierdie organisasies gedeel word, sukkel die voorstanders van BELA egter om ʼn oortuigende en samehangende saak daar te stel.
Eerstens, in die breë politieke gesprek het die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, aanvanklik volgehou dat BELA geen bedreiging vir Afrikaans inhou nie, maar sy het haar nou volledig tot Panyaza Lesufi se mantra verbind dat die staat maar kan intree en skole se toelatings- en taalbeleide aan hulle kan voorskryf.
Tweedens, waar die minister nou ewe skielik die bedreigende bepalings teen Afrikaanse onderwys steun, is dit duidelik dat die meeste van die komiteelede min van BELA en die onderwys-omgewing weet. Die vrae aan die deelnemers het grootliks gehandel oor die regmatigheid van Afrikaanse onderwys – wat nooit ter sake was nie.
Derdens, die inhoudsadviseur van die portefeuljekomitee, Portia Mbude-Mutshekwane, het te kenne gegee dat gemeenskapsbetrokkenheid aangemoedig moet word en dat dit verband hou met ʼn presterende skool.
Verder is genoem dat daar verhoed moet word dat skoolbeheerliggame ʼn “funksionele uitbreiding” van die staat word, en dat sekere kwessies eerder deur die betrokke partye uitgeklaar moet word as wat die staat eensydige besluit neem.
Nou is BELA op ʼn baan geplaas waar kommentare verder verreken sal word. ʼn Openbare deelnameproses sal in 2023 afskop, en na dit alles sal die portefeuljekomitee vir basiese onderwys ʼn aanbeveling aan die Nasionale Vergadering maak.
Daar kan verwag word dat BELA in 2023 verder op die spits gedryf sal word, en die stryd vir gehalte-onderwys in Afrikaans sal opnuut voortgesit word.
BELA kon vir nog ʼn jaar afgeweer word, maar in die komende jaar sal die skole- en ouergemeenskap ʼn veel groter rol vervul as ooit tevore.