Vanaand met Pienaar Lochner

Weeksdae
18:00 - 22:00

Luister nou

Volgende

BELA by die deur in, kwaliteit by die venster uit

Nuuskommentaar: 21 Oktober

Deur: Johnell van Vollenhoven

Met die aanvang van die matriekeindeksamen wat oor net bietjie meer as ʼn week afskop, is ouers, onderwysers en veral matrikulante verwoed besig om voor te berei vir een van die belangrikste eksamens in ʼn jongmens se lewe.

Terwyl die uitdagings wat daarmee saamgaan menige leerling en ouer op hul knieë dwing om te bid vir insig, leiding en helder denke (en dalk ook geduld), word daar vir seker ook dankbaarheid betuig.

Alhoewel die verskynsel nie uitsluitlik in Afrikaanse skole voorkom nie, is ons Afrikaanse taalgemeenskap besonder bevoorreg met die kwaliteit van onderrig en toewyding wat ons kinders in hul skole ontvang. Saam met vakkennis en die vermoë om te onderrig vind ons ook die waardeoordrag van ons gemeenskap wat die boustene vir elke leerder se toekoms is.

Die Bela-wetsontwerp (Wysigingswetsontwerp op Onderwyswette) wat vroeër hierdie jaar weer oopgestel is vir kommentaar, hou egter ʼn wesenlike bedreiging vir Afrikaanse skole in. Met hierdie wysigingswet sal die regering nuwe mag verkry. Dit is mag wat hom nie toekom nie; mag wat met die nuwe bedeling juis deur die regerende party aan “die mense” oorhandig is deur die Onderwys Witskrif 6 van Julie 2001, naamlik dat staatskole afgeskaf word en die beheer en bestuur van skole in die hande van ouers geplaas word.

In die Bela-wetsontwerp word ouers en beheerliggame van hul regte gestroop. Die staat sal voortaan ʼn vetoreg hê met betrekking tot toelating- en taalbeleide – juis dit wat die kultuur en waardes van ʼn gemeenskap weerspieël en die identiteit van die skool bepaal.

Sonder hierdie beleide en met die hulp van die aanlyn registrasiestelsel kan die plaaslike onderwysdepartement met min moeite die taaldemografie van ʼn skool verander. Die implikasie hiervan is verreikend. Dit het ʼn impak op elke skool en elke kind. Dit verander openbare skole, skole wat aan gemeenskappe en ouers behoort, in staatskole. Dit keer terug na ʼn burokratiese stelsel waar mag deur ʼn regering misbruik word om ʼn ideologie te bevorder tot nadeel van ons kinders.

Verder lyk dit nie of die staat enige poging aanwend om sy ander verpligtinge ingevolge die Skolewet na te kom nie. Alhoewel die departement bewus behoort te wees van die aantal nuwe leerders wat jaarliks gebore word en oor ses jaar hul skoolloopbane moet begin, word die getal beskikbare skole jaarliks minder.

Daar is nie meer ʼn stoel vir elke sitvlak nie. En die oplossing is blykbaar nie net om die taaldemografie in skole te verander vir politieke gewin nie, maar om hierdeur ook die aantal leerders per skool ver bo skole se kapasiteit aan te pas. Die uiteinde: oorvol Engelse skole; “one size fits all”.

Elke ouer en opvoeder sal weet dat geen kind met ʼn ander vergelyk kan word nie en dat elke leerder individuele aandag, veral in die grondslag- en intermediêre fase, nodig het om veral abstrakte konsepte volledig te kan verstaan. Om die grondslag van begrippe behoorlik vas te lê sodat leerders gerat kan wees vir sukses, is kleiner klasse en moedertaalonderrig broodnodig.

Wat die Bela-wetsontwerp gaan doen, is om dit van ons kinders te ontneem. Met massas kinders en ʼn veranderde taaldemografie by die deur in, waai kwaliteit-onderrig by die venster uit. Te min tyd, te moeilik om te verstaan en te veel geleentheid vir uitdagings met betrekking tot dissipline sal die norm word; ʼn teelaarde vir swakker prestasie.

Uiteindelik sal die prentjie voor die matriekeindeksamen heelwat anders lyk, selfs al word slaagsyfers aangepas. Kinders sal minder insig toon wat gespesialiseerde en hoogs geskoolde beroepe ver bo hul vermoëns sal plaas. Werkloosheid sal vererger, nie omdat daar te min werk is nie, maar omdat die meerderheid jong volwassenes nie oor die basiese vaardighede sal beskik om suksesvol tot die arbeidsmark toe te tree of tersiêre studie suksesvol te voltooi nie.

Daarom moet ons dit stop. Daarom is dit belangrik dat ouers en gemeenskappe saamspan en hul stem dik maak teen die regering. Daarom is dit belangrik op te staan vir die regte van ouers en beheerliggame; die regte van ons kinders.

Dit is om hierdie rede dat gemeenskappe moet aanhou om in hul skole te belê en deel te wees van hulle ondersteuningsnetwerk. Dit is waarom volhoubare oplossings vir uitdagings gevind moet word, en waarom daar met vertroue en hoop steeds aan ʼn toekoms vir Afrikaanse skole gebou moet word.

Ons kinders is nie sonder hoop nie. Ons ouers en gemeenskappe ook nie. Dit is waarom ons met passie en ywer werk en bou. Dit is waarom ons daarop kan aandring dat die regte van ons kinders beskerm word. Dit is waarom onderwysers steeds met oorgawe onderrig en die waardes, in vennootskap met ons as ouers, aan elke kind oordra. Die toekoms hang nie af van burokrate en ideologieë nie; dit is regstreeks verbind aan die hoop in oë van die ywerige bouer.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Gewilde Nuus

GpIRgvQWUAAJIpG

DA, EFF se aansoek oor BTW-verhoging vandag aangehoor

Old,And,Young,Person,Holding,Hands.,Elderly,Care,And,Respect,

Maatskaplike dienste “misluk” weens onreëlmatige besteding

Go6hdNIX0AAO0Ry

Herstelwerk by Tembisa-hospitaal sal nie vinnig kan begin nie

WhatsApp Image 2025-04-21 at 16.57.33_905897b9

Die MK-party besoek Kleinfontein

Pope-Francis-120824-1-bfb0a5d45f5f46e1934fab8de6f8e91e (1)

Pous Franciskus sterf

Ander Nuus Artikels

GpIavQ2WsAAYfFl
EFF-lede betoog oor Orania
E
Die EFF sê “ryk mense moet belas word” eerder as ‘n BTW-verhoging
MK
“Bestaan van kultuurgemeenskappe soos Kleinfontein moet erken word”
GpIRgvQWUAAJIpG
DA, EFF se aansoek oor BTW-verhoging vandag aangehoor
Old,And,Young,Person,Holding,Hands.,Elderly,Care,And,Respect,
Maatskaplike dienste “misluk” weens onreëlmatige besteding

Vanaand met Pienaar Lochner

Weeksdae
18:00 - 22:00

Luister nou

Volgende