13 September 2021
Die bekende dramaturg, Pieter Fourie is gisteraand in die ouderdom van 81 in sy huis op Onrusrivier naby Hermanus oorlede.
Fourie is bekend vir dramas soos Faan se trein, die Joiner en die Koggelaar. Sy dood kom nadat maagkanker vroeër vandeesmaand by hom gediagnoseer is.
Fourie was ook ‘n stigterslid van die Afrikaanse kunstefees, die Klein Karoo Nasionale Kunstefees – die KKNK.
Die Protea Boekhuis het op hul Facebook-blad hulde aan Fourie gebring. “Fourie, wat as die mees bekroonde Afrikaanse dramaturg beskryf word, se eerbewyse en pryse sluit in die Erepenning vir Toneelkuns en die Gerhard Beukesprys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in 1996, die Hertzogprys vir sy dramaoeuvre in 2003 en ‘n eredoktorsgraad van die Universiteit van die Vrystaat.”
Protea Boekhuis het tussen 2002 en 2019 agt van sy dramas uitgegee of heruitgegee.
Hy word oorleef deur sy vrou, Maletta, en hul dogter, Sonja, asook sy dogters by sy eerste vrou, die aktrise Lizz Dick, Tania en Mashinka, en dié by sy tweede vrou, Marlize Herselmann, Natasha en Nandi, asook kleinkinders.
Stem vir die Aitsa’s