28 Junie 2023
‘n Brasiliaanse sokkerondersteuner het alles in sy testament aan die miltimiljoenêr-sokkerspeler van dié land se nasionale span, Neymar bemaak.
Die anonieme aanhanger het aan die plaaslike mediahuis Metropoles gesê dat hy besluit het om Neymar in sy testament in te sluit omdat hy homself met Neymar vereenselwig. Hy is ook ‘n reuse ondersteuner van die nasionale span.
Die 30-jarige aanhanger sukkel na bewering met sy gesondheid en wil nie sy aardse besittings aan die Brasiliaanse regering of familielede, waarmee hy nié oor die weg kom, agterlaat nie.
Hy sê hy het voorheen probeer om sy aardse besittings aan Neymar oor te gee, maar dit is nou wettig ingevolge sy testament wat deur sy regsverteenwoordigers bekragtig is. Luidens ‘n 2023 berig deur Forbes is Neymar nagenoeg $85-miljoen werd.
