3 Januarie 2022
‘n Bejaarde egpaar van die plaas, Zoutpansdrift naby Brits in Noordwes is Vrydag (31 Desember) deur drie mans in hulle huis aangeval en erg aangerand.
AfriForum se tak in Brits het op sy Facebook-blad gesê dat die mans paraffien in die 80-jarige Willie Pistorius en sy vrou Elmien se oë gespuit het, en gedreig het om hulle aan die brand te steek. Hulle is ook vasgebind.
Die verdagtes was glo opsoek na geld en wapens. Volgens ‘n buurman en sektorleier van Afriforum se buurtwag in die omgewing, Hennie Barnard is Willie verskeie kere met ‘n mes gesteek en hy is ook met ‘n pistool oor die kop geslaan. Sy vrou, wat in haar sewentigs is, is ook herhaaldelik oor die kop geslaan.
Volgens Barnard kon Willie homself los kry en hulp ontbied. ‘n Selfoon en kontant is gesteel.
Die Pistorius-egpaar word tans in die Netcare Unitas hospitaal in Centurion behandel.