Nuuskommentaar: 10 Mei 2021
Deur: Piet le Roux
Toe die Wet op Breëbasis Swart Ekonomiese Bemagtiging (BEE) bykans 20 jaar gelede opgestel is, was dit minder as 10 jaar na die 1994-verkiesing. Kritici van BEE het die ernstige risiko geloop om as kritici van swart vooruitgang geskilder te word.
Vandag heers ‘n ander toedrag van sake. Niemand dink meer BEE is ‘n sukses nie. Nie eens die voorstanders daarvan nie. Almal besef BEE is ‘n saak van nasionale agteruitgang.
So aanvaarbaar is dit om teen BEE te wees dat dit selfs sopas die onderwerp van Advokaat Thuli Madonsela se Nadine Gordimer-gedenklesing was. “’n Verlore saak,” het sy BEE genoem.
Die mislukking was voorspelbaar. Waarskuwings kom al baie jare uit geledere van sowel swart sakemagnate, soos Richard Maponya, as wit sakemagnate, soos Johann Rupert. “BEE is nie ‘n goeie ding nie, omdat dit jong en opkomende entrepreneurs, wat wakker moet word en dinge vir hulself moet doen, van eie inisiatief ontneem,” het Maponya in 2013 gesê. Ook kommentators en ontleders van oor die spektrum – van individue soos Moeletsi Mbeki tot groepe soos Solidariteit, Sakeliga en ander – wys al lank op die gevolge.
Tog is die saak nog nie heeltemal gewonne nie. Vir sommige wat aan BEE bly vasklou is dit ‘n saak van eie belang, maar baie ander argumenteer oor BEE as ‘n saak in algemene belang. Aan eersgenoemde selfsugtige groep kan ‘n mens nie veel doen nie – hulle gee oor min buite hulself om.
Die vlak waarop die debat oor BEE eerder gevoer moet word is oor of BEE in algemene belang is of nie. Dit is hier waar baie mense nog dink BEE is net verkeerd toegepas, in beginsel kan dit eintlik werk.
Die realiteit is dat BEE nooit kan werk nie. Die rede daarvoor het niks met swart of wit te doen nie, maar met die verskil tussen ekonomie en politiek.
BEE is in wese die oordrag van eienaarskap en beheer van kapitaal van een groep aan ‘n ander, deur middel van politiek. Politieke is egter nie ‘n goeie meganisme vir kapitaaltoedeling nie. Kapitaaltoedeling is iets wat deur entrepreneurs gedoen moet word, op grond van die voorkeure van verbruikers. Kapitaal moet hande verwissel deur middel van samewerking en transaksies, nie deur middel van wette nie. Entrepreneurs is die ware rentmeesters van kapitaal, nie politici nie. En as politici kies wie eienaarskap en beheer oor verskillende stukke kapitaal uitoefen, dan moet dit noodwendig tot laer waardeskepping lei.
Die gety teen Swart Ekonomiese Bemagtiging is besig om te draai. Onlangs het Solidariteit en AfriForum goeie hofuitsprake daarteen behaal. Op 25 Mei is Sakeliga in die Grondwethof om ‘n gunstige uitspraak van einde verlede jaar teen BEE in openbare verkryging te verdedig. Stuk-vir-stuk, deur litigasie en openbare druk, selfs deur weiering van deelname, vanuit die sakesektor en ander burgerlike groeperinge, moet die skadelike BEE-vangnet, wat die afgelope dekades in Suid-Afrika gespan is, afgetakel word. Vir baie redes, maar mees ooglopend vir die feit dat dit noodwendig – en nie toevallig nie – tot ekonomiese agteruitgang, in plaas van vooruitgang, lei.
Die einde is nog nie in sig nie, maar daar is verandering in die lug.