4 Junie 2021
Die hooggeregshof in Bloemfontein het ’n aansoek van die nasionale vervolgingsgesag se ondersoekdirektoraat toegestaan om die bates van Iqbal Sharma, sy maatskappy sowel as ’n Gupta-maatskappy te bevries.
Die bates sluit Sharma se maatskappy, Nulane Investments 204 asook bates van sy vrou, Tarina Patel in. Die bevel betrek ook die Gupta-broers, Atul en Rajesh, asook hulle vroue, Chetali en Arti se besigheid Islandsite Investments 180.

Die bevel geld vir alle bates in Suid-Afrika, insluitend talle eiendomme asook twee eiendomme, wat in die Verenigde Arabiese Emirate geregistreer is.
Die bates, met ‘n totale waarde van R520-miljoen sluit Patel se luukse eiendom van R19-miljoen in Sandton (sien foto’s) in.
Dit sluit ook glo die Guptas se luukse eiendomme in Saxonwold en Constantia in.

Die hof het ’n kurator aangestel wat in beheer van die bates sal wees, hangende die strafregtelike klagte van bedrog en geldwassery wat teen Sharma, Nulane, Islandsite, die vier Guptas en ander in die streekhof in Bloemfontein aangehoor gaan word.
Indien hulle skuldig bevind word, sal die nasionale direkteur van openbare vervolging vra vir ‘n beslagleggingsbevel.