23 Oktober 2023
Die 44-jarige Wayne Barnes, van Engeland gaan waarskynlik aangewys word as die skeidsregter van vanjaar se eindstryd tussen Suid-Afrika en Nieu Seeland – in die Rugby Wêreldbeker – wat komende Saterdag in Parys, Frankryk, beslis sal word.
Indien Barnes wel aangewys word sal dit sy eerste Wêreldbekerfinaal wees wat hy gaan hanteer.
Barnes en die Suid-Afrikaanse skeidsregter, Jaco Peyper, was die voorste kandidate vir dié pos, maar aangesien die skeidsregter van ‘n neutrale land afkomstig moet wees, is Peyper oor die hoof gesien.
Na verwagting behoort Wêreldrugby Barnes se aanstelling Dinsdag te bevestig wanneer die res van die wedstrydbeamptes – asook dié van Vrydag se stryd om die derde plek – aangewys word.
Verlede jaar het Suid-Afrika se direkteur van rugby, Rassie Erasmus in die moeilikheid beland toe hy na afloop van die Springbokke se wedstryd teen Frankryk Barnes se prestasie as skeidsregter op sosiale media bevraagteken het.