30 Junie 2021
“Dit gaan elke dag beter met Ayden en ons hoop om binnekort vanuit die hospitaal na die rehabilitasiesentrum te kan gaan. Hy het ook weer vandag vir die eerste keer sedert die voorval sy fopspeen gesuig.”
So het die ma van die agt maande oue baba, Ayden van Niekerk van Lydenburg in Mpumalanga, Estelle van Niekerk Woensdagmiddag aan Pretoria FM gesê.
Vroeër is berig dat Ayden op 6 Mei aan ‘n stukkie biltong gestik het, wat sy ouma vir hom gegee het om te help met jeukerigheid, wat met tandesny gepaardgaan.
LEES OOK: JONGSTE OOR BABA WAT AAN BILTONG VERSTIK

Volgens Estelle het die dokters egter vandeesweek bevind dat hy nié aan die biltong gestik het nie, maar ‘n toeval gehad het wat sy brein aangetas het. Sy sê die toeval het tot ‘n suurstoftekort (hipoksie), hartverlamming en iskemiese enkefalopatie gelei.
Breinskaderings het ook getoon dat hy 20% van sy breinvolume verloor het. Ayden word sedert Mei in die Netcare Garden City-hospitaal in Johannesburg behandel.
Estelle sê die omvang van die skade aan sy brein word nog bepaal, maar dokters voorspel dat hy “waarskynlik langer gaan neem om iets aan te leer as ander kinders van sy ouderdom.”
Sy sê die gesin hoop om binne die volgende week na die rehabilitasiesentrum oorgeplaas te word sodat Ayden weer basiese vaardighede kan aanleer. Sy en haar man, Sarel hoop om daarna Ayden – uiteindelik – huis toe te kan vat.