27 Januarie 2022
Vandag 77 jaar gelede op 27 Januarie 1945 is duisende Jode en ander politieke gevangenes deur Sowjet-troepe uit die Auschwitz-Birkenau doodskamp in Pole bevry, wat op daardie stadium onder Nazi-bewind was.

Tussen 1940 en 1945 is ongeveer 1,1-miljoen mense, van wie die meeste Jode (960 000) in dié kamp dood. Auschwitz was veral berug vir sy reuse gaskamers, waar duisende mense vermoor is – wat volgens Nazi soldate nie vir hulle van nut was nie.
Duisende mense is daagliks in veetreine na Auschwitz gebring, waar die soldate besluit het wie lewe en wie sterf.
Sedert 2006 staan 27 Januarie bekend as Internasionale Holocaust-herdenkingsdag, ter nagedagtenis aan die meer as 6-miljoen Jode, wat onder die Nazi-regime gesterf het. Ongeveer 200 000 kinders is na Auschwitz geneem, maar net 700 het nog op die bevrydingsdag geleef.

‘n 100-jarige oorlewende, die Duitse Jood, Margot Friedlander was vandag by die Europese parlement in België as deel van die herdenkingsdag. Friedlander kon vir 15 maande daarin slaag om die Nazi’s te ontduik toe sy op 22-jarige ouderdom in 1944 in hegtenis geneem is en na Theresienstadt Jodebuurt geneem is, wat nou deel is van die Tsjeggiese Republiek.
Haar broer en ma is ‘n jaar te vore na Auschwitz geneem waar beide dood is.
In die Duitse parlement in Berlin het die 87-jarige oorlewende, Inge Auerbacher vertel dat sy vir baie jare nog met die haat binne haar moes saam leef. Sy was 7 jaar oud toe sy en haar ouers in 1941 ook na Theresienstad geneem is. Auerbacher, wat ook talle boeke oor haar lewe geskryf het, het vertel dat sy net haar pop en die klere aan haar lyf kon hou.
