13 Maart 2023
‘n Nuwe rekord vir die grootste pampoen is die afgelope naweek by die jaarlikse Goliat van Gat-pampoenfees in Pretoria opgestel.
Wykus Lamprecht se bielie van ‘n pampoen is Saterdag by die fees by die Silverton-boeremark gekroon as die grootste pampoen met ‘n gewig van 890 kilogram. Lamprecht van Meyerton in Gauteng het ook verlede jaar se Goliat van Gat-kompetisie gewen toe sy pampoen 846 kilogram geweeg het.
Volgens Lamprecht word die sade reeds in Oktober geplant, en neem dit hom ongeveer 170 dae om dié reuse pampoene te kweek. Hy het dié wen pampoen, Liesbet gedoop ter nagedagtenis aan die gesin se huishulp, toe hy nog ‘n kind was.
Jaco Cornelius het die tweede plek behaal met sy pampoen van 340 kg en Dirk Smal in die derde plek se pampoen het 309 kg geweeg. Die Goliat van Gat-pampoenfees vind reeds sedert 2004 plaas.
Nuwe rekord pampoen van 890 KG by die Goliat van Gat pampoenfees die afgelope naweek. Wykus Lamprecht van Meyerton in Gauteng het weer koning gekraai.