Nuuskommentaar: 26 Oktober 2021
Deur: Hannes Noëth
Lewensgehalte van mense kan soms onnodig ingeperk word. Aan die ander kant is die verskil wat die regte besluit op die regte tyd vir mense kan beteken soms onberekenbaar. Een van die mooi voorbeelde hiervan vind ’n mens in die onlangse opstel van OKOSA (Onafhanklike kommunikasieowerheid van Suid-Afrika) se Kode vir persone met gehoorgestremdheid waaroor besluit is.
Die Raad vir Persone met Gestremdhede moet gekomplimenteer word hoe hulle sedert 2015 vra dat die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika dit verpligtend maak om onderskrifte en byskrifte by nuusberigte en amptelike staatsaankondigens te maak.
Die motivering vir hierdie versoek is so logies – alhoewel staatsaankondigings en nuusberigte dikwels gebruik maak van iemand wat deur gebaretaal tolk, skakel die nie gebruikmaking van byskrifte en onderskrifte baie persone met gehoorgestremdheid uit. Dikwels word dit nie deurdink nie.
Die meeste persone wat gehoorgestremd is kan nie gebare taal praat nie. Die rede is eenvoudig. Gebaretaal is ’n taal wat aangeleer word wanneer ’n mens in ’n bepaalde konteks toegang daartoe het, of indien mens met gehoorgestremdheid gebore is en/of van kleins af daaraan blootgestel word.
Baie mense word gehoorgestremd in hulle volwasse lewe, of in hulle ouderdom, wanneer hulle bejaard raak, of in ’n konteks waar hulle nie noodwendig toegang tot opleiding in gebaretaal het nie. Juis daarom is die versoek om onderskrifte en byskrifte so billik. OKOSA neem in 2021 die besluit anders.
Hulle besluit daar moet wel vir persone met gehoorgestremdheid onderskrifte of byskrifte wees met nuusberigte en staatsaankondigings, maar maak dit geslote. Die implikasie van hierdie besluit help mense met TV-dekodeerders en internettoegang, maar dit help die mense wat dit nie kan bekostig nie werklik niks.
Daarom is die Nasionale Raad vir Persone met gestremdheid se hofaansoek aan OKOSA om hierdie besluit ter syde te stel so besonder aktueel en nodig. Hulle vra doodgewoon dat OKOSA dit heroorweeg anders sal ’n mens via die hof moet vra dat OKOSA dit heroorweeg.
Die belangrikheid van hierdie saak is eenvoudig: sluit n groep mense uit by jou amptelike staatsaankondigings en belangrike nuusgebeure of maak hulle deel van jou gemeenskap. Laat hulle deel van dit wat aktueel is en noodsaaklik is om te weet. In die eerste plek is die gebruik van gebaretaal reeds ’n reuse tree.
Die maklike en volgende stap is om dit ook toeganklik te maak vir hulle wat nie kan hoor nie en ook nie gebaretaal kan verstaan nie. Dit sal jammer wees as ’n hofsaak nodig moet wees om hierdie billikheid te laat geskied. Aan die een kant gaan dit oor baie meer as net om die mense wat nie kan deel in die nuus en aankondigings in te sluit nie, dit gaan oor menswaardigheid, oor erkenning, oor inklusiwiteit.
In hierdie tyd wat OKOSA geleentheid het om op die hofuitspraak te reageer kan ’n mens maar net die vertroue uitspreek dat hulle die lig sal sien en sal hoor en dit wat bekend moet wees aan die hele Suid-Afrikaanse samelewing nie weerhou word van hulle wat nie kan hoor, nie gebaretaal kan verstaan en nie toegang het tot internet en dekodeerders nie, maar sal besluit om ook hulle te respekteer wat deel is van die samelewing al moes hulle aanpassings maak omdat hulle gehoorgestremd is.
Stem vir die Aitsa’s