28 Mei 2024
Die Hoogste Hof van Appèl het bevind dat die “Kill the Boer”-dreunsang nie haatspraak is nie.
AfriForum sê hierdie uitspraak laat boere in die steek, en beklemtoon opnuut die belangrikheid daarvan om veiligheid in eie hande te neem. Die organisasie se uitvoerende hoof, Kallie Kriel sê hierdie uitspraak plaas beide boere en Afrikaners in gevaar.
LEES OOK: VF PLUS EIS ANTWOORDE OOR WAAROM KLAG TEEN MALEMA OOR “KILL THE BOER” SLOER
AfriForum het die aanvanklike klagte teen die EFF en Malema in 2020 ingedien nadat EFF-ondersteuners “Kill the Boer, kill the farmer” buite die landdroshof in Senekal gesing het waar die beskuldigde moordenaars van plaasbestuurder Brendin Horner verhoor is.
Kriel meen boere verdien dieselfde beskerming teen haatspraak as enige ander beroepslui of kultuurgroep. Hy sê as die howe nie hierdie groepe teen haatspraak gaan beskerm nie, sal hulle hul veiligheid in eie hande moet neem.
LEES OOK: AFRIFORUM IN DIE HOF OOR DIE ONTTREKKING VAN “KILL THE BOER”-APPÈLSAAK SE REGTER
“AfriForum het reeds meer as 172 buurt- en plaaswagte landwyd gevestig. In die lig van hierdie uitspraak sal AfriForum sy fokus op die besteding van ’n groot en groeiende hoeveelheid van sy hulpbronne en tyd in die verbetering en uitbreiding van ons gemeenskapsveiligheidsnetwerke verskerp deur middel van opleiding en toerusting,” sluit Kriel af.
AfriForum sal met sy regspan vergader om die moontlikheid van ’n Konstitusionele Hof-geding te bespreek.