13 Augustus 2024
Die minister van sport, kuns en kultuur, Gayton McKenzie, het in ’n parlementêre antwoord bekend gemaak dat Suid-Afrika nié nou geld het om standbeelde, monumente en simbole uit die apartheidsera in openbare ruimtes na voorgestelde nasiebouparke te skuif nie.
Die nasionale tesourie het daarom ’n versoek van die departement vir ’n begroting daarvoor verwerp.
Dit volg nadat die EFF-LP, Thapelo Mogale by McKenzie wou weet wat sy voornemens is met betrekking tot standbeelde van sogenaamde koloniale en apartheidsleiers wat steeds in openbare ruimtes staan.
Mogale wou ook weet wat McKenzie doen om die verandering van plekname in Suid-Afrika te bespoedig.
Volgens McKenzie moet gemeenskappe in gevalle – waar naamsveranderinge vir dorpe en stede voorgestel word – ook dié nuwe name identifiseer en ondersteun.