25 Junie 2021
Die departement van basiese onderwys het in ‘n verklaring bevestig dat 105 000 onderwysers in sewe provinsies binne die eerste twee dae van die inentingsprogram vir onderwyspersoneel en ander skoolpersoneel ingeënt is.
Op Woensdag, die eerste dag van inentingsprogram is 49 776 onderwysers ingeënt gevolg deur 55 444 gister.
Volgens die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga sal dié getalle toeneem nadat die Wes-Kaap en Limpopo in alle erns vandag begin het met die inenting van onderwysers en ander personeellede.
Sy sê KwaZulu-Natal loop voor met sy inentings met 32,1% van onderwysers wat reeds die entstof ontvang het.
Daarna volg Mpumalanga (26%), Noordwes (22%), die Vrystaat (21,9%) en die Oos-Kaap (21%). In die Noord-Kaap is 12% van die teikengroep reeds ingeënt en 11% in Gauteng is al ingeënt.
Volgens Motshekga het haar departement 582 000 mense in die bedryf geïdentifiseer wat ingeënt moet word en beoog hulle om dié proses teen 8 Julie af te handel.