28 Julie 2022
Die ANC het sy plan bekend gestel om politici vas te vat wat van korrupsie verdink word.
Na afloop van die aanbevelings in die Zondo-kommissie van ondersoek na skaatskaping se verslag – en in aanloop tot die party se beleidskonferensie dié naweek – het die party se beleidshoof, Jeff Radebe, ‘n drie-punt plan bekend gestel.
Die plan behels onder meer dat die aanbevelings in die verslag na die onderskeie uitvoerende komitees verwys word vir beraadslaging.
Tweedens sal ‘n span die party se swakplekke uitwys asook aanbevelings maak en ten derde sal die partylede – wat in die verslag uitgewys word – individueel verslag moet doen.
Radebe het erken dat die party nog nie die hele verslag – wat uit nagenoeg 5000 bladsye bestaan – gelees het nie, maar dat hulle omtrent 200 hoë-profiel politici se name reeds raakgelees het wat voor die party se integriteitskomitee sal moet verskyn.
In sy verslag het die voorsitter – hoofregter Raymond Zondo – die party daarvan beskuldig dat hy ‘n groot aantal van die onderduimse transaksies – wat tot staatskaping gelei het – gefasiliteer het.
Statement on the @MYANC Response to the State Capture Commission Report. #ANCPolicy pic.twitter.com/fDe9MsYNbT
— African National Congress (@MYANC) July 27, 2022