29 Oktober 2024
Die ANC sê hy gaan ondersoek instel na die uitlek van interne ANC-inligting aan die media.
Die party se Nasionale Uitvoerende Komitee het die naweek oor verskeie kwessies vergader, waaronder die uitlek van sekere inligting aan die media.
Die ANC se sekretaris Generaal Fikile Mbalula sê ‘n nuwe permanente komitee sal forensiese oudits doen om vas te stel wie die inligting aan die media uitlek.
Verskeie van die ANC se besluite wat geneem word deur die party se Nasionale Werkkomitee het al in die verlede uitgelek aan die media, voor die besluite deur die party gekommunikeer is.
Mbalula het intussen ook gesê president Ramaphosa gaan nié die visum-ooreenkoms tussen Suid-Afrika en Oekraine onderteken nie.
Die minister van binnelandse sake, Leon Schreiber het gister aangekondig dat die ooreenkoms uiteindelik geteken is, en dat dit visum-vrye toegang vir diplomate van Oekraine na Suid Afrika sal verseker.
Die presidensie het gesê die ooreenkoms is eers geldig sodra die president dit onderteken het.
Mbalula het vandag gesê dat minister Schreiber oorgretig is, en dat hy weet dat Ramaphosa nie die ooreenkoms sal onderteken nie.