10 Mei 2024
Die ANC het terug gekap ná opposisie-partye uitgevaar het teen sy besluit om sy Zimbabwiese bondgenoot, Zanu-PF as gas vir die algemene verkiesing te nooi.
Volgens die ANC se nasionale voorsitter, Gwede Mantashe kan niemand aan dié party voorsê wie hy as vriend mag hê nie.
Mantashe sê om Zanu-PF te misken sou wees om sy bondgenote tydens die sogenaamde vryheidstryd te verloën.
LEES OOK: “ZANU-PF MOET SUID-AFRIKA SE VERKIESING VERBIED WORD”
Opposisiepartye het aangevoer dat Zimbabwe se regerende party onwelkom is gegewe dié party se beweerde geskiedenis van verkiesingsonreëlmatighede en die intimidasie van opponente om telkemale ‘n oorwinning te verseker.
Die DA se nasionale woordvoerder, Solly Malatsi sê die ANC se uitnodiging aan ZANU-PF is deel van ‘n desperate poging om enige ondersteuning te kry vir die verkiesing op 29 Mei.
Volgens Malatsi kan dit as politieke inmenging gesien word indien ZANU-PF wel die uitnodiging aanvaar.