31 Oktober 2023
Die VF Plus vra dat ʼn omvattende verslag aan die raad van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit voorgelê word, rakende die hoeveelheid geld wat die nasionale regering, sedert 2018 aan die munisipaliteit as reddingsboei geskenk het.
‘n Regeringsafvaardiging wat bestaan het uit president Cyril Ramaphosa en die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, het verlede week ʼn oorsigbesoek aan Emfuleni gebring, om vas te stel hoe ver die provinsiale en nasionale regerings se ingrypingsplan gevorder het.
Die VF Plus-raadslid in die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit, Gerda Senekal sê Ramaphosa het Emfuleni verlede jaar ook besoek en beloof om 40 paaie in dié munisipaliteit te bou, wat egter nie gebeur het nie.
Sy sê ‘n verdere R1,1-miljard is ook beloof om die waterstelsel op te gradeer en te herstel, waarvan slegs R260-miljoen ontvang is.
“Terwyl Lesufi ʼn positiewe prentjie oor Emfuleni probeer skep het, vloei die riool steeds in die strate, riviere word besoedel en inwoners is al hoe meer sonder elektrisiteit.”
Senekal meen Ramaphosa en Lesufi se besoek aan Emfuleni is net nóg een van die ANC-regering se verkiesingsfoefies, waar beloftes gemaak word wat geen resultate oplewer nie.