Nuuskommentaar: 6 Junie 2022
Deur: Reiner Duvenage
Die laaste paar weke is die nuushooftrekke veral deur die regering se beplande R50 miljoen-skenking aan Kuba oorheers. Terwyl mense nog besig was om te herstel van die beledigende nuus dat die regering beplan om geld aan Kuba te midde van ’n ernstige ekonomiese krisis te skenk, het Nathi Mthethwa, minister van Sport, Kuns en Kultuur, twee verdere bomme op die niksvermoedende publiek laat bars. Eerstens, dat daar beplan word om ’n 100 meter hoë vlagpaal teen ’n koste van R22 miljoen op te rig en tweedens, dat ’n hernoeming van die Afrikaanse Taalmonument oorweeg word. Hierdie aankondigings het vanselfsprekend onmiddellik sterk openbare teenkanting ontlok. Die mees ontstellende gevolgtrekking van die afgelope weke is egter die regering se volslae nonchalante houding in die lig van die kritiek wat dit ontvang het. Dit verraai sonder ’n skadu van twyfel dat die ANC-regering heeltemal uit voeling met die werklikheid is.
Naledi Pandor, die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, se verdediging van die Kuba-skenking het haar ongesonde greep op die werklikheid ontbloot. Sy het opgemerk dat sy nie “die misterie van die vasberade anti-Kuba sentiment kan verstaan nie”. As Pandor en die regering vir een oomblik hul ideologiese oogklappe kon afhaal, sou hulle besef dat hongersnood en voedselonsekerheid ’n groter probleem vir Suid-Afrikaners as vir Kubane is. Aangesien Suid-Afrika hoër op die globale hongerindeks as Kuba gelys is, behoort ’n mens dus eerder te vra hoekom Kuba nie die R50 miljoen aan ons skenk nie. President Cyril Ramaphosa het verdere minagting getoon vir die gewone man op straat deur by ’n Swart Sakeraad-byeenkoms te spot en te skerts oor die teenkanting wat die R22 miljoen-vlagpaal ontvang het. Hy het toe uiteindelik hovaardig en laggend laat hoor dat hierdie projek hersien word. Die mees bisarre oomblik van die laaste paar weke het egter gebeur toe minister Mthethwa op regstreekse televisie voorgestel het dat die Afrikaanse Taalmonument se naam na die “Xhosa Taalmonument” verander moet word. Dít ten spyte daarvan dat die Xhosa-taal niks te doen het met die oprig en geskiedenis van hierdie monument nie.
Dit is ironies dat die regering só oor maatskaplike samehorigheid preek, aangesien sy eie mislukkings en beleide maatskaplike samehorigheid feitlik onmoontlik maak. Hoe kan die regering verwag dat daar maatskaplike samehorigheid moet wees as dit ’n vlagpaal teen R22 miljoen wil oprig terwyl mense aan van die hoogste misdaad-, korrupsie- en werkloosheidsyfers ter wêreld onderwerp word? Hoe kan die regering van Afrikaners verwag om tot maatskaplike samehorigheid by te dra terwyl dit ’n aanslag teen Afrikaner-erfenis, -taal en -kultuur geloods het? Hoe kan die regering broodnodige fondse aan Kuba skenk terwyl hongersnood ’n groter probleem in hierdie land is?
Hierdie vrae is ongemaklik en moeilik om te beantwoord, daarom is dit baie makliker om Afrikaners as die sondebok uit te maak waarop al die regering se mislukkings geprojekteer kan word. Vir so lank as wat mense valslik onder die indruk gehou kan word dat rassisme en historiese Afrikaner-oorheersing die hoofprobleem in hierdie land is, bied dit ’n rookskerm vir die grootste probleme wat deur regeringsmislukkings veroorsaak word. Die ANC beskou hom opsigself steeds as ’n gevierde revolusionêre beweging, terwyl dit in werklikheid ’n bron van ongeëwenaarde komedie op die wêreldtoneel is. Ongelukkig kom die handhawing van hierdie drogbeeld almal in hierdie land duur te staan.