8 Desember 2021
Die ANC sê opposisiepartye in die nasionale vergadering het as ’n “onheilige koalisie” teen hom saamgespan om te keer dat onteiening sonder vergoeding ’n werklikheid word.
Die wysigingswetsontwerp het misluk, na die ANC net 204 stemme vir onteiening sonder vergoeding kon kry, en nie die 267 stemme vir ‘n twee derde meerderheid nie.
Die voorsitter van die parlementêre ad hoc-komitee wat die proses aangedryf het, Mathole Motshekga het gesê die ANC het ander maniere tot sy beskikking om te verseker dat die mense van Suid-Afrika grond kry.
Die VF Plus sê intussen hy is verheug dat gesonde verstand geseëvier het oor ’n saak wat net in rampspoed kon eindig.
Die party sê onteiening sonder vergoeding sou Suid-Afrika sonder enige twyfel op ’n snelweg van vernietiging plaas soos met Zimbabwe gebeur het. Die DA sê die afskiet van die wysigingswetsontwerp is ‘n oorwinning vir grondwetlike demokrasie.
Die DA se leier John Steenhuisen sê onteiening sonder vergoeding sou nooit Suid Afrikaners sonder grond help nie, en dat hulle eintlik gefaal is deur die ANC se mislukte grondhervormings program.