5 Mei 2021
Die eerste hoë profiel ANC-lid het gister vrywillig sy pos ontruim, na die party se Nasionale Werkkomitee, oftewel NWK besluit het om skorsingsbriewe te stuur aan lede wat van misdade aangekla word, maar nie opsy wil staan nie.
Die adjunk-voorsitter van die ANC in KwaZulu-Natal, Mike Mabuyakhulu het aangekondig dat hy vrywillig opsystaan.
Mabuyakhulu is aangekla van korrupsie nadat die provinsiale regering in KwaZulu-Natal in 2012 ongeveer R28-miljoen bestee het aan die North Sea Jazz-fees.
Die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, wat op klagte van korrupsie teregstaan, klou egter nog aan sy pos.
Die NWK het in ‘n verklaring gesê dat enige lid wat geskors word, se skorsing elke ses maande hersien sal word, en dat die betrokke persoon maandeliks moet terugvoer gee oor die vordering in sy of haar saak.