Nuuskommentaar: 13 Januarie 2022
Deur: Ernst van Zyl
Tydens die ANC se onlangse 110 jarige vieringe, het President Ramaphosa in ‘n SAUK onderhoud gesê dat daar ‘n “persepsie” bestaan dat die ANC ‘n korrupte party is. Die president het egter ontken dat dit die geval is en het eerder die vinger gewys na enkele ongenoemde individue binne die ANC wat by korrupte aktiwiteite betrokke was, wat die party se beeld skaad. Die “vrot appels”- verskoning is natuurlik ‘n groot gunsteling onder politieke aanspreeklikheidontduikers. Dit herinner my aan die ou grappie: “Dit is 90% van die prokureurs wat ons beroep ‘n slegte naam gee.”
Vir so lank as wat die “nie-korrupte” lede van die party nooit enige sinvolle stappe neem teen hul kaders wat betrokke is by korrupsie nie, en hul slegs soms lig oor die vingers tik, bly die volgende stelling akkuraat: die ANC is ‘n korrupte party. Wat die voortdurende en kroniese korrupsie, selfs tydens ‘n noodtoestand, binne die party betref, is die ignoreerder net so goed soos die steler.
Korrupsie binne die ANC is duidelik ook nie faksie-eksklusief, soos sommige politieke kommentators dit graag probeer inkleur nie. Voormalige minister van gesondheid Zweli Mkhize, wat bedank het gedurende die pandemie weens ernstige korrupsie aantuigings, was nie ‘n Radikale Ekonomiese Transformasie (RET) faksie lojalis nie. Let veral daarop dat mnr Mkhize, wat vierkantig in die Ramaphosa kamp was, nooit afgedank is nie, maar eerder bedank het sonder enige nagevolge. Die feit dat die ANC na beide kante toe van sy faksieverdeling verrot is, word verder bevestig deur mnr Ramaphosa se voormalige woordvoerder Khusela Diko, wie tydens die pandemie, betrek is by ernstige korrupsieklagtes van miljoene rande.
Die staatskapingsverslag, waarvan die eerste deel onlangs gepubliseer is, sal slegs van enige wesentlike waarde wees, as ons sien dat diegene wat daarin geïmpliseer word, veral hoëprofielname, die ernstige gevolge dra wat hul misdade verdien. Andersins was die Zondo kommissie maar net nóg ‘n weerligafleiende, peperduur stuk politieke teaterspel om vir tyd te speel, op oorbelaste belastingbetalers se ewig-groeiende rekening.
Die ANC is duidelik desperaat om ontslae te raak van die ettiket van korrupte party wat hulle self, deur hul aksies (of gebrek daaraan), oor die jare verdien het. Die enigste manier hoe hulle dit kan probeer regkry, is deur vinger te trek en hul menigte openbare skok-reaksies op elke nuwe korrupsie-onthulling, op te volg met dringende en drastiese strafregtelike en dissiplinere aksies. Indien ons nie groot kaderkoppe sien rol vir korrupsie in 2022 nie, bly daar net een vraag: sal die president se krimpende koor luidkeelse lofsangers en beeldpoetsers uiteindelik die ruggraat hê om te erken dat die keiser inderdaad geen klere dra nie?