24 Januarie 2024
Die ANC in KwaZulu-Natal sê hy het alle moontlike opsies oorweeg om oud-president Jacob Zuma te verhoed, om sy gewig agter die MK Party in te gooi.
Die voormalige president het onlangs die verkiesingsveldtog van die nuutgestigte uMkhonto Wesizwe-party gelei, terwyl hy nog ’n lid van die ANC is.
Die party se nasionale uitvoerende komitee het nog nie bekend gemaak watter stappe hulle van plan is om teen Zuma te doen nie.
Sonder om Zuma uit te sonder, het die provinsiale sekretaris Bheki Mtolo gesê, die provinsiale uitvoerende komitee het besluit om teen ANC-lede – wat aan die verrigtinge van ander politieke partye deelneem – op te tree.
Hy het gewaarsku dat lidmaatskap summier opgeskort sal word en dat die lede voor die party se provinsiale dissiplinêre komitee gedaag sal word. Mtolo het verder ook gesê dat Zuma se tyd as president die ANC baie stemme gekos het.