28 Julie 2022
Die ANC gaan sy personeel se salarisse betaal met skenkings wat hy van donateurs ontvang het.
Die party se woordvoerder Pule Mabe sê die personeel se Junie en Julie salarisse sal binnekort betaal word, sodra die geld in die ANC se rekening reflekteer.
Dit is nie seker of die werknemers hulle volle salarisse sal ontvang nie.
Die personeel het vroeër die week gedreig om die ANC se nasionale beleidskonferensie te ontwrig, sou hulle nie hul geld kry nie. Dié konferensie begin vandag in Johannesburg.
President Cyril Ramaphosa het gisteraand op die party se dinee in aanloop tot die konferensie gesê die ANC moet die belange van Suid-Afrikaners heel eerste stel, en sodoende hul vertroue wen. Ramaphosa sê die bekamping van armoede sal hoog op die agenda wees tydens die beleidskonferensie.