Nuuskommentaar: 12 Julie
Deur: Jaco Kleynhans
Terwyl verskeie lande in Afrika, Suid-Amerika en Asië tans steier onder ‘n nuwe vlaag van Covid-19 infeksies en die gevolglike ekonomiese terugslag wat met hernude inperkingsmaatreëls saamgaan, is talle lande in veral die noordelike halfrond besig om vinnig verby die pandemie te tree. In ‘n groot mate neem die VSA die leiding hiermee.
Amerika het steeds die grootste ekonomie in die wêreld en met die derde grootste bevolking het dié land uitstekend daarin geslaag om die pandemie hok te slaan. Die enorme poging om verskeie entstowwe te ontwikkel en ‘n meerderheid van die Amerikaanse bevolking binne ses maande in te ent het ‘n groot rol hierin gespeel.
Met die uitbreek van die pandemie verlede Februarie het die VSA ‘n rekordlae werkloosheidskoers van 3,5% gehad. Teen April het dit gestyg tot 14,8% met meer as 20 miljoen Amerikaners wat binne twee maande hulle werk verloor het. Die arbeidsmag deelnamekoers het tydens die pandemie tot 60,2% gedaal, wat die laagste sedert die vroeë 1970’s was.
Teen die laaste kwartaal van verlede jaar het die Amerikaanse ekonomie egter weer begin groei en tydens die eerste kwartaal vanjaar het dit met 6,4%, heelwat meer as wat die meeste ekonome verwag het, gegroei en is die verlies van verlede jaar se inkrimping uitgewis. Daar word nou verwag dat die Amerikaanse ekonomie vanjaar met 7% sal groei.
Intussen het die werkloosheidskoers in die VSA van byna 15% tot minder as 6% gedaal. Baie meer Amerikaners is vandag ekonomies aktief as ‘n jaar gelede en daar ontstaan reeds groot arbeidstekorte in verskeie sektore.
Die vinnige ekonomiese herstel in die VSA was veral te wyte aan verskeie deelstate se weiering om met langdurige streng inperkingsmaatreëls voort te gaan. Die vinnige verslapping van inperkingsmaatreëls gepaardgaande met die aggressiewe uitrol van Amerika se inentingsprogram het ekonomiese herstel moontlik gemaak en het die VSA, en veral Amerikaanse uitvoerders, ‘n mededingende voordeel gegee.
Die Amerikaanse regering het ook biljoene dollars se ekonomiese stimulasiepakkette goedgekeur wat tot ‘n skerp toename in verbruikersbesteding aanleiding gegee het. Teen verlede maand het ekonomiese aktiwiteite in die VSA grootliks na normaal terug gekeer. Een voorbeeld is die getal Amerikaners wat gedurende die Onafhanklikheidsdag-langnaweek gereis het. Byna 48 miljoen Amerikaners het vir dié vakansie weggegaan, wat baie goed vergelyk met die 48,9 miljoen in 2019, wat toe ‘n nuwe rekord was.
Terwyl die VSA byna elke ontwikkelde land voor is, met sy ekonomiese herstel na die pandemie, is daar ernstige gevaarligte wat ook aangaan. In 2010, kort na die finansiële krisis wat die VSA ernstig geraak het, het Amerika die res van die wêreld 2,5 biljoen dollar geskuld. Dit was gelykstaande aan 17% van sy Bruto Binnelandse Produk. Intussen het dit die Amerikaanse regering se buitelandse skuldlas binne elf jaar met byna 500% tot 14 biljoen dollar, oftewel 67% van die land se BBP gestyg.
Die VSA se snelgroeiende staatskuld is onvolhoubaar. Verder het inflasie ook vinnig begin styg en is daar kommer dat dit binnekort tot hoër rentekoerse kan lei.
Die Biden-administrasie ry tans die golf van ekonomiese herstel en weier om oor inflasie en die skuldlas te praat. Dit kan egter in die toekoms tot ‘n groot volgende ekonomiese krisis in Amerika aanleiding gee, wat natuurlik ook die res van die wêreld sal raak.
Hou Afrikaans op die lug