10 Februarie 2022
President Cyril Ramaphosa sal vanaand om 19:00 sy staatsrede lewer, vanuit die stadsaal in Kaapstad.
Die Premier van die Wes-Kaap Alan Winde het ‘n beroep op Ramaphosa gedoen om sy staatsrede te gebruik om die einde van die ramptoestand aan te kondig, en om dit nie verder te verleng nie.
Die ramptoestand verstryk volgende week, maar daar is nog ‘n moontlikheid dat dit weer vir ‘n maand verleng kan word.
Daar is groot gewag gemaak oor ‘n moontlike aankondiging van die verlenging van die R350 Covid toelaag, en Ramaphosa sal na verwagting meer sê oor hoe ‘n herhaling van die geweld en onluste van verlede jaar vermy gaan word.
Die gasvryheidsbedryf se vakbond, Fedhasa het ook gevra dat die ramptoestand opgehef moet word weens die impak daarvan op die toerisme- en gasvryheidsbedryf. Die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, dr. Angelique Coetzee sê egter sy sal verbaas wees indien die ramptoestand wel opgehef word.