8 Mei 2023
Op 8 Mei 2025 sal dit presies 100 jaar wees sedert Afrikaans ʼn amptelike taal van Suid-Afrika
geword het.
Afrikaanse organisasies, instansies, maatskappye, skole en enigiemand anders wat
Afrikaans as inheemse taal koester, word genooi om by Afrikaans 100-feesvieringe betrokke te
raak deur hul eie inisiatiewe van stapel te stuur om dié groot geleentheid te vier.

Die Afrikaans 100-oorsigkomitee het vanoggend ‘n mediakonferensie by die Kleinkaap Boutique Hotel in Centurion gehou waartydens hulle die planne vir die eeufeesviering bekend gestel het.
Die komitee se voorsitter, dr. Theuns Eloff sê die eeuvieringe bied die Afrikaanse gemeenskap die geleentheid om die fokus te plaas op die gedeelde ontstaansgeskiedenis van Afrikaans en erkenning te gee aan die ontwikkeling van Afrikaans as moedertaal en spreektaal.
“Vir enige taal om honderd jaar oud te word as amptelike taal is ʼn belangrike mylpaal. Ons het vroeg begin om ʼn oorsigkomitee saam te stel om ʼn raamwerk te skep waarbinne alle organisasies, klein en groot, in die volgende twee jaar en verál die laaste ses maande voor 8 Mei 2025 Afrikaans se 100ste
bestaansjaar as amptelike taal in Suid-Afrika kan vier,” sê Eloff.
Hy sê die oorsigkomitee sal ʼn koördinerende rol speel in die aanbied van ʼn nasionale Afrikaans 100-
veldtog.
Voorts is werkskomitees vir verskillende sektore saamgestel uit ʼn wye en verteen woordigende groep Afrikaanse organisasies. Dié werkskomitees sal, onder leiding van die Afrikaanse Taalraad (ATR) en die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), verantwoor delik wees daarvoor om talle feeste en geleenthede op alle vlakke van die samelewing deur die land te hou, tot met die groot feesgeleentheid op 8 Mei 2025.
Die oorsigkomitee bestaan uit die volgende lede, in alfabetiese volgorde: Astrid de Vos (Dagbreek
Trust), dr Theuns Eloff (Trust vir Afrikaanse Onderwys) (voorsitter), Dianne Ferrus (skrywer en
digter), Werner Human (Solidariteit Beweging), Michael Jonas (Afrikaanse Taalmuseum en –
monument) (ondervoorsitter), Susan Lombaard (Maroela Media), Karen Meiring (Nuuseum),
Sinki Mlambo (NWU), Hendrik Theys (UWK), Merlyn van der Rheede (Afrikaanse Taalraad),
Heindrich Wyngaard (Kaapse Forum). Die Afrikaanse Taalraad met Ria Olivier en Conrad
Steenkamp tree as sekretariaat op.
Organisasies wat deel wil vorm van die Afrikaans 100-
inisiatief, word genooi om die manifes te onderteken en te stuur na [email protected].
