23 Julie 2023
Die Onafhanklike Polisieondersoek-direktoraat, Opod het bevestig dat al agt lede van adjunk-president, Paul Mashatile se beskermingseenheid in hegtenis geneem is nadat hulle vroeër vandag by die Sandton polisiekantoor aangemeld het.
Die lede is vroeër vandeesmaand op beeldmateriaal vasgevang waarin hulle glo drie lede van die weermag op die N1 in Johannesburg aangerand het.
Opod se woordvoerder, Robbie Raburabu het bevestig dat die agt lede môre in die Randburg-landdroshof sal verskyn. Hulle het net na middagete by die polisiekantoor aangemeld nadat Opod gister in ‘n verklaring gewaarsku het dat die agt in hegtenis geneem sal word indien hulle nie self aanmeld nie.
Hulle staar aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer, die rig van vuurwapens en kwaadwillige saakbeskadiging in die gesig.
Die burgerregteorganisasie, Action Society sê intussen dat die agt lede nié op borgtog vrygelaat moet word nie.
Die organisasie se woordvoerder, Ian Cameron meen die verdagtes behoort ook van poging tot moord aangekla word. Hy meen hulle kan nie borg toegestaan word nie omdat hulle ‘n bedreiging vir die samelewing inhou.
