22 Mei 2023
Die landbou-organisasie Agri SA wil gebeurlikheidsplanne opstel om te verseker dat mense kos het om eet, sou die nasionale kragnetwerk in duie stort.
Die uitvoerende hoof van Agri SA, Christo van der Rheede, sê dit is belangrik dat daar gebeurlikheidsplanne vir die hele waardeketting vir voedsel ingestel word.
Dit sluit in gebeurlikheidsplanne vir die groot markte in die metropole, winkels en boere.
Deel van die planne moet volgens hom die organisering van boere insluit om plase te beskerm indien mense hul skure en krale bestorm.
Van der Rheede sê mense wil nie eintlik praat oor die scenario waar daar geen krag is nie, maar dit is iets waarvoor daar beplan moet word. Die bestuurshoof van Solidariteit, dr. Dirk Hermann het in reaksie op Agri SA se planne gesê dat dit verantwoordelik is om rampplanne voor te berei indien “die onwaarskynlike gebeur.”
Hy sê die ineenstorting van die kragnetwerk se waarskynlikheid is nog klein.
