28 Oktober 2022
Die organisasie, Agri SA sê hy is uiters bekommerd dat die 2022/2023-somerseisoen aanleiding kan gee tot ‘n selfs ernstiger sprinkaanuitbraak indien proaktiewe stappe nie nou reeds geneem word nie.
In 2021/2022, is meer as 23 miljoen hektaar geraak deur sprinkaanuitbrake – die ergste uitbraak in 25 jaar. Soveel as 90% van die 23 miljoen hektaar geïnfiltreerde grond is landbougrond.
Volgens Agri SA se risiko en rampbestuurder, Andrea Campher is uitbrake reeds in volle swang in dele van die Noord-Kaap, Oos-Kaap en Wes-Kaap.
Sy sê vernietigende swerms kan weens verwagte reën in die 2022/2023-somerseisoen voorkom namate sprinkaaneiers op die geïnfiltreerde grond uitbroei. Volgens Campher is die kontrakte van spinkaanbeamptes in die betrokke provinsies nie betyds hernu nie, ondanks die erns van die saak.
Campher sê die organisasie het ‘n dringende vergadering met die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza versoek om die kwessie te bespreek.