22 Oktober 2024
Die Tshwane-metroraad waarsku dat waterbesoedeling in die omgewing van die Temba-afvalwatersuiweringsaanleg kan voorkom nadat tien rowers op dié aanleg toegeslaan het.
Volgens die raad het die aanvallers die vier veiligheidswagte van hul selfone en vuurwapens beroof voordat hulle die elektrisiteitskabels na die pompe afgesny en gesteel het.
Dié pompe is tans buite werking met die gevolg dat daar feitlik geen afvalwaterbehandeling gedoen kan word nie.
Inwoners word gewaarsku om besoedelde water te vermy aangesien dit ‘n gesondheidsgevaar inhou. ‘n Woordvoerder, Lindela Mashigo het ‘n beroep op inwoners gedoen om die metro te help om die aanleg te beskerm, en om enige verdagte aktiwiteite by die polisie aan te meld.
Dit is nié die eerste keer dat die aanleg geteiken is nie. In Februarie vanjaar is panele, en ander infrastruktuur by die aanleg gesteel, wat skade van meer as R400 000 aangerig het.