27 September 2022
Die burgerregteorganisasie, AfriForum het vanoggend in die Hooggeregshof in Mpumalanga, saam met die Sunfield-tehuis vir gestremdes, verskyn in hul saak teen die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling.
Regter Roelofse, het bevestig dat hy ’n bevel gaan toestaan wat dié departement se dreigement om die inwoners van die Sunfield-tehuis te verplaas verbied. Die bevel deur Roelofse sluit die aanstel van ’n advokaat in, met meer as tien jaar se ondervinding, om as kurator ad litem vir die inwoners op te tree.
AfriForum het tot die saak toegetree nadat die staat reeds vir die afgelope 14 jaar weier om die subsidiebedrag vir die Sunfield-tehuis, ’n tehuis vir fisieke en verstandelik gestremde persone, te verhoog.
Die departement het gedreig om die staatsgesubsidieerde inwoners te verplaas.
“Hierdie is ’n groot oorwinning vir geregtigheid in ’n Dawid en Goliat-storie waar die regering die mees weerloses in ons samelewing onregverdig behandel en selfs dreig,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud.