26 Augustus 2021
Die burgerregte-organisasie, AfriForum het kommentaar op die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Rampbestuur gelewer en het benadruk dat dit so gou moontlik goedgekeur word omdat dit in openbare belang is.
Volgens die regs- en risikobestuurder by AfriForum, Marnus Kamfer kom die woord “lockdown” nie in die Wet op Rampbestuur 57 van 2002 voor nie, en ook in geen ander nasionale statuut of wetgewing nie.
Hy sê tog het dié nuwe woord – wat ’n reeks van voortdurend veranderende maatreëls en stelsels behels – verweef geraak met die uitvoerende gesag se reaksie op die COVID-19-pandemie.
Volgens Kamfer sal die wysigingswetsontwerp dié ongrondwetlike toedrag van sake regstel, en dit is in wese daarop gemik om ’n mate van oorsig aan die nasionale regering terug te gee.
Hy is van mening dat die wysigingswetsontwerp die Wet op Rampbestuur met grondwetlike prosedures belyn wat noodtoestande betref, en wat aan die beginsel van die skeiding van mag voldoen en daardeur behoorlike oorsig bewerkstellig.
Hou Afrikaans op die lug