15 Mei 2023
Uitspraak is in die Pretoriase Hooggeregshof voorbehou waar die burgerregteorganisasie AfriForum vandag met ’n hersieningsaansoek verskyn het om die regering se beoogde R50-miljoen-skenking aan die Kubaanse regering, finaal te keer.
Volgens AfriForum se veldtogtebeampte vir strategie en inhoud, Ernst van Zyl het die organisasie reeds in 2022 ’n dringende interdik bekom om die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) te verhoed om R50-miljoen aan die Kubaanse regering te skenk.
Hy sê die regering se poging om te appelleer was van die hand gewys.
“Suid-Afrika bevind homself tans in ’n kragkrisis, ’n werkloosheidskrisis, ’n korrupsiekrisis en ’n krisis om ekonomies te groei. Daar is geen regverdiging vir ’n R50 miljoen-skenking aan Kuba nie,” sê Van Zyl.
Hy meen as die ANC só desperaat is om miljoene aan hul vriende in die Kubaanse regering te skenk, kan hulle hierdie uitgawe self befonds met behulp van die buitensporige salarisse van meer as R2,4 miljoen per jaar wat ministers verdien.