7 Februarie 2022
Die burgerregteorganisasie AfriForum se haatspraaksaak teen die EFF, die party se leier, Julius Malema, en die LP Mbuyiseni Ndlozi is vanaf vandag tot 18 Februarie op die rol in die Suid-Gautengse Hooggeregshof in Johannesburg.
AfriForum het hierdie klag in Oktober 2020 aanhangig gemaak nadat ondersteuners van die EFF “Kill the Boer, Kill the Farmer” buite die landdroshof in Senekal gesing het waar beskuldigdes vir die moord op die plaasbestuurder Brendin Horner verhoor is.
Die organisasie se hoof van beleid en aksie, Ernst Roets sê Malema is in 2011 aan haatspraak skuldig bevind vir die sing van die dreunsang, Dubul’ibhunu (Skiet die Boer). In hierdie saak het die Hoogste Hof van Appèl ook ’n bevel uitgereik ingevolge waarvan Malema daarvan weerhou word om soortgelyke dreunsange te sing en dat hy sy ondersteuners van die sing van sulke dreunsange moet ontmoedig.
“AfriForum dien hierdie klag ingevolge die Gelykheidswet in, maar daar word onder meer van die hof gevra dat die saak ook vir strafregtelike vervolging verwys word. In AfriForum se pleitstukke vra die organisasie vir ’n bevel dat Malema, Ndlozi en die EFF haatspraak gepleeg het, dat hulle in die openbaar verskoning moet vra en dat hulle ’n boete van R500 000 moet betaal aan ’n organisasie wat hulself beywer vir die bekamping van haatspraak,” sê Roets.
Intussen het ‘n enkele groep EFF-lede buite die hof byeengekom.
EFF vs Afriforum https://t.co/cTNajsj42I
— Economic Freedom Fighters (@EFFSouthAfrica) February 7, 2022