3 Mei 2021
Die burgerregte-organisasie, AfriForum het ’n skrywe gerig aan die ombudsman vir transformasie by Krieket Suid-Afrika (KSA), advokaat Dumisa Ntsebeza, nadat KSA bevestig het dat hul ook skriftelike voorleggings van huidige en voormalige spelers, afrigters, administrateurs en ander belanghebbendes sal oorweeg.
Die organisasie sê hy het reeds in November verlede jaar ‘n verslag gepubliseer wat die negatiewe impak van KSA se transformasiebeleid op die sport uitlig.
In die verslag word daar onder meer aangedui dat dié beleid diskriminerend is en ’n negatiewe impak op prestasie en veral op die sportgemeenskap in Suid-Afrika het.
Die bestuurder van sport by AfriForum, Ronald Peters sê die organisasie verteenwoordig tans bykans 280 000 lede en sê weens die rol wat sport in gemeenskappe speel, is dit belangrik dat insette op hierdie proses – wat op nagevorste feite gebaseer is – deur die transformasieombudsman bestudeer moet word.
Peters meen die huidige transformasiebeleid diskrimineer nie net nie, maar dryf ook gemeenskappe uitmekaar.
Volgens hom moet daar dringend ’n onderskeid getref word tussen transformasie en ’n kwotastelsel.