21 April 2021
Die burgerregte-organisasie, AfriForum het ‘n prokureur aangestel om die verrigtinge in die Piet Retief-landdroshof dop te hou en om volgens hulle seker te maak dat geregtigheid geskied.
Vier boere en ‘n plaasvoorman het gister vir die derde keer in die hof verskyn in verband met ‘n skietvoorval op die Pampoenkraalplaas in die Dirkiesdorp-omgewing op 9 April.
Hulle staar onder meer twee aanklagte van moord in die gesig nadat twee broers, Amos en Zenzele Coka doodgeskiet is. Volgens een van die boere se eedsverklarings het hy skote uit selfverdediging afgevuur.
Die hoofondersoekbeampte in die saak adjudant-offisier David Nhlapho word sedert gister gekruisondervra as deel van die vyf verdagtes se formele borgtogaansoek.
LEES OOK: PIET RETIEF: STAAT VRA DAT GEEN BORGTOG TOEGESTAAN MOET WORD NIE
Die regs- en risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid by AfriForum, Marnus Kamfer sê die organisasie veroordeel – volgens hom – die ideologiese opportunisme waarmee verskillende groepe nou aan betogings in dié dorp deelneem.
Honderde betogers het Maandag en gister buite die hof byeengekom en geëis dat die vyf mense nie op borgtog vrygelaat moet word nie. Kamfer sê AfriForum se lede in Piet Retief sal ook enige verdere betogings dop hou.
Die saak is tot 26 April uitgestel.