4 Julie 2024
Waarskuwing die inligting in die berig kan sensitiewe lesers ontstel.
AfriForum se privaatvervolgingseenheid sê dit is onaanvaarbaar dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nog nié ‘n verdagte van verkragting aangekla het nie, al is daar bewerings wat onder eed gemaak is en foto’s wat glo wys hoe ’n vrou met ’n lepel verkrag word.
Die eenheid sê aanklaers by die Pretoria-Noord-landdroshof ignoreer sy versoek dat hierdie saak na die streekhof oorgeplaas moet word en dat die man aangekla moet word van hierdie ernstige seksuele oortreding.
Die verdagte het vandag vlugtig in die hof verskyn.
LEES OOK: “BORGTOG AAN VERMEENDE VERKRAGTER LAAT VROUE EN KINDERS IN DIE STEEK”
Die eenheid se woordvoerder, Barry Bateman sê die man staar klagtes van aanranding met die doel om ernstig te beseer en seksuele teistering in die gesig maar meen hy moet ook van die verkragting van Felicia Mkondo aangekla word. Sy het aan die eenheid toestemming gegee om geïdentifiseer te word.
Volgens Bateman was die verdagte en Mkondo in ‘n verhouding toe die beweerde oortredings tussen Februarie 2020 en Desember 2022 plaasgevind het. Luidens hofstukke het die verdate Mkondo fisies en seksueel aangerand. Een van die ontstellende bewerings is dat hy glo ‘n eetlepel gebruik het om haar te verkrag terwyl sy hoogswanger was.
LEES OOK: VEROORDEELDE VERKRAGTER STERF IN HOF
Mkondo sê die NVG het nie haar saak ernstig opgeneem nie. Al het sy bewyse en foto’s gehad.
Bateman sê die NVG laat vroulike slagoffers van misdaad in die steek.
Hy sê die saak is tot 1 Augustus vir verhoor uitgestel, maar dat die privaatvervolgingseenheid egter verdere vertoë aan die NVG sa; rig om te verseker dat die beskuldigde ook van verkragting aangekla word.