29 November 2021
Die burgerregte-organisasie, AfriForum sê in ‘n brief aan president Cyril Ramaphosa dat die organisasie verpligte inentings as ’n onregverdige skending van persoonlike vryhede sien en dat die organisasie enige verpligte inentingsmandaat sal teenstaan.
Dit volg ná die president gisteraand aangekondig het dat die regering ’n taakspan gestig het wat breë konsultasies sal onderneem om inentings verpligtend te maak vir spesifieke aktiwiteite en plekke.
Volgens AfriForum is daar internasionaal voorbeelde wat wys dat wanneer inentings verpligtend gemaak word, dit misluk en juis die teenoorgestelde bereik as wat bedoel is as gevolg van geharde houdings en terugslag wat dit skep.
AfriForum beklemtoon hoe die president die land in Februarie 2021 toegespreek het en belowe het dat daar nie teen mense – wat nie ingeënt is – gediskrimineer sal word nie en nou beplan sy administrasie om presies dít te doen.
Volgens AfriForum se hoof van beleid en aksie, Ernst Roets, sal die organisasie die nodige stappe doen om die regering teen te staan indien hulle inenting verpligtend wil maak, veral gebaseer op die beginsel van vryheid van keuse en die grondwetlike reg op liggaamlike outonomie.
Roets sê staatsdwang bly gevaarlik, ongeag of jy met die onderwerp saamstem of nie.
Stem vir die Aitsa’s