10 April 2024
AfriForum het vanoggend aangekondig dat sy buurtwagte in die Pretoria-omgewing ‘n groter rol sal speel tot die bekamping van ‘n toename in spykerlokvalle wat die afgelope tyd aangemeld is.
In een voorval is ‘n man op 31 Maart vermoor in ’n aanval op die N4, oos van Pretoria, toe rowers hom met ’n mes gesteek het nadat sy voertuig se bande beskadig is deur skerpgemaakte ysterpenne wat op die pad geplaas is.
Die hoofwoordvoerder van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, Jacques Broodryk sê dit is veral die N1 noord van Pretoria, die R80, die N4 in die noorde van die stad asook die N4 in die omgewing van Pretoria-Oos wat as brandpunte vir hierdie spykerlokvalle beskou kan word.
Hy sê AfriForum se buurtwagte het hulself daartoe verbind om die misdaadbrandpunte waar spyker- en kliplokvalle gereeld voorkom, by hul patrollieroetes in te sluit.
Broodryk gee die volgende praktiese raad aan motoriste ten opsigte van spyker- en kliplokvalle:
- Moet onder géén omstandighede die motor stop ná ’n insident waarin die voertuig se bande, voorruit of ander onderdele beskadig is nie. Hou sover moontlik aan met ry tot by ’n veilige bestemming.
- Kontak jou plaaslike buurtwag, sekuriteitsmaatskappy of nooddiens so gou moontlik en stel hulle in kennis van die voorval. Gee volledige besonderhede rakende die voorwerp wat in die lokval gebruik is en verskaf die adres of ligging daarvan. Dit sal aanvalle op motoriste wat moontlik ná jou op dieselfde manier geteiken word, kan voorkom.
- Maak seker jou selfoon is gelaai voordat jy die pad aandurf.
- Deel jou ligging met geliefdes, veral wanneer jy alleen reis.
- Wees paraat en kom in die gewoonte om vooruit in die pad te kyk om sodoende enige bedreigings, vreemde voorwerpe of mense op of langs die pad betyds raak te sien.
- Stoor die kontaknommers van die nooddienste, buurtwag of sekuriteitsmaatskappy op jou foon.
- Oorweeg dit om ’n nooddienstoepassing, soos die AfriForum 911-paniekknoppie-toepassing, op jou foon te installeer. Dié toepassing is gratis beskikbaar op Google Play Store (vir Android-toestelle) en App Store (vir iOS-toestelle).
Foto: Mpumalanga Press