17 September 2024
Die burgerregteorganisasie, AfriForum het vanoggend sy Red Pretoria-petisie, wat deur 17 000 inwoners onderteken is, aan die Tshwane-metro koalisievennote oorhandig.
Die doel van die petisie is om ‘n ernstige beroep op koalisievennote te doen om alles in die stryd te werp om die Tshwane-metro uit die hande van ’n ANC-EFF-koalisie te hou.
LEES OOK: DA: “ActionSA het die Tshwane-metro verraai”
AfriForum se hoof van openbare betrekkinge, Ernst van Zyl sê die burgemeesterskomiteelid en voorsitter van die Koalisiekomitee in die Tshwane-metro, Jacqui Uys, sowel as ander verteenwoordigers van die koalisie het die petisie by die metroraad se hoofkwartier, Tshwane House, in ontvangs geneem.
“AfriForum se beroep volg in reaksie op ActionSA se aankondiging dat dié party die afgelope naweek besluit het om uit die koalisie met die DA, VF Plus, ACDP en IVP te tree. Dit maak die bedreiging van ’n moontlike koalisie met die EFF en ANC nou selfs groter,” sê Van Zyl.
LEES OOK: VF Plus: Ons bly verbind tot die koalisieregering in die Tshwane-metro
Hy sê AfriForum doen ‘n beroep op ActionSA om in die belang van al die stad se inwoners hul besluit om van die koalisie te onttrek, te heroorweeg.