20 Julie 2023
Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n versoek aan die Verenigde Nasies (VN) se spesiale rapporteur vir menseregte op veilige drinkwater en sanitasie gerig waarin hy gevra word om aandag aan “die grootskaalse skending van Suid-Afrikaners se reg op toegang tot water en sanitasie te skenk.”
AfriForum meen Suid-Afrikaners se reg op toegang tot water en sanitasie word ernstig bedreig weens die swak toestand van die land se natuurlike waterhulpbronne en die verval van waterinfrastruktuur regoor die land.
Die organisasie se raadgewer oor omgewingsake, Marais de Vaal sê AfriForum is alreeds ‘n geruime tyd besig met strategieë en hofaansoeke om kwessies soos die kwaliteit van drinkwater, sukkelende munisipale rioolsisteme en toegang tot water aan te pak, “maar as gevolg van die regering se traak-my-nieagtige houding raak die probleme net al groter.”
De Vaal sê indien die spesiale rapporteur verdere ondersoek sou instel, sal die regering hopelik die erns van die waterkrisis besef.
Volgens Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake, staan Suid-Afrika op die punt van ’n water-ineenstorting.
