3 April 2023
Die burgerregteorganisasie, AfriForum gaan ’n hersieningsaansoek bring teen die nasionale tesourie se besluit om vrystelling aan Eskom toe te staan in terme van onreëlmatige uitgawes en wanbesteding by dié kragvoorsiener.
Dit volg nadat die minister van Finansies, Enoch Godongwana, in die Staatskoerant aangekondig het dat Eskom hierdie vrystelling van die Openbare Finansiële Bestuurswet en die regulasies van die tesourie voortaan sal geniet.
Hierdie vrystelling sal beteken dat Eskom nie verslag hoef te doen oor enige onreëlmatige besteding vir die huidige boekjaar en die 2024/2025 boekjaar nie,
Volgens Morné Mostert, AfriForum se bestuurder vir Plaaslikeregeringsake, is dit krities dat deursigtigheid in terme van finansiële bestuur by enige staatsinstelling seëvier, maar veral by Eskom weens die kragkrisis wat die land tans ervaar.
“Hierdie vrystelling sal die weg baan vir verdere korrupsie op ’n uiterse groot skaal by ’n instelling wat alreeds gebuk gaan onder die nagevolge daarvan.”
Hy sê AfriForum het reeds in gesprek getree met sy regspan oor die kwytskelding.