1 April 2021
AfriForum Jeug sê sy regspan is in kennis gestel dat 51 van die 132 studente, wat deur dié organisasie verteenwoordig word, toegelaat is om vir 2021 by verskeie universiteite te registreer terwyl hul NSFAS-saak nog hangend is.
Die organisasie staan dié studente by in die saak rakende hul finansiering van NSFAS wat glo onregmatig opgeskort is.
Volgens die nasionale koördineerder van kampusstrukture by AfriForum Jeug, Chantelle du Preez het die organisasie terugvoer van die Nelson Mandela Universiteit, die Universiteit van die Wes-Kaap, Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van Pretoria ontvang om te bevestig dat hulle die studente sal toelaat om te registreer.
Sy sê AfriForum Jeug wag nog vir terugvoer van 12 ander tersiêre instellings om te hoor of hulle ook die studente sal toelaat om te registreer.
Intussen het die Suid-Afrikaanse Studente-vakbond, oftewel die SAUS studente-betogings by universiteite landswyd stopgesit nadat onderhandelinge met verskeie rolspelers afgehandel is.
Die vakbond se president, Mischeck Mugabe het nou ‘n beroep op alle studente gedoen om terug te keer na hul verskeie kampusse. Studente het verlede maand begin betoog weens historiese skuld en hulle eise vir gratis onderrig.