24 Oktober 2024
Die jeugorganisasie, AfriForum Jeug sê die regering moet van die omstrede Bela-wet vergeet en eerder plan maak om skole te bou.

AfriForum Jeug het vanoggend ‘n protesaksie gehou waartydens hulle ‘n groot sakrekenaar aan die kantoor van die Gautengse premier, Panyaza Lesufi oorhandig het. Die woordvoerder van die jeugorganisasie, Louis Boshoff sê die behoefte aan meer skole is groot en nié ‘n sogenaamde ingewikkelde wiskundesom nie.
Volgens AfriForum Jeug toon navorsing dat die aantal skole in Gauteng in die tien jaar vanaf 2014 tot 2023 – dieselfde tyd waarin Lesufi vanaf Mei 2014 tot Oktober 2022 as LUR aan die stuur van onderwys in die provinsie gestaan het – van 2 070 skole na 2 061 afgeneem het.
Dít ondanks Lesufi se vele beloftes om nuwe skole te bou. “Benewens die daling in die aantal openbare skole in Gauteng, toon die statistiek wat ons vandag voorgelê het, dat daar tans byna 300 000 meer leerders in dié provinsie is as ’n dekade gelede,” sê Boshoff.
Lesufi het onder meer in 2014 beloof om een skool per week op te rig en weer in 2020 beloof om 100 nuwe skole te bou. Boshoff sê dit is onaanvaarbaar om vir die Bela-wetgewing plek te maak terwyl daar nie genoeg skole is nie.